Deur Danet van Wijk
‘n Trust kan soms kompleks wees en vir dié van ons wat nie elke dag daarmee te doen het nie kan dit nog meer vreesaanjaend wees. Uit ‘n klomp verskillende soorte trusts fokus ons in hierdie artikel op kindertrusts en die mites daar rondom. Mites maak hul opwagting wanneer daar nie genoeg kennis is oor die onderwerp nie, dus werp Eksekuteurs vir Boedels en Testamente lig op drie algemene kindertrust-mites.
Mite 1:
Na my dood word my kind se wettige voog outomaties die trustee vir my kindertrust.
In Suid-Afrika word jou kind se wettige voog nie outomaties die trustee van jou kindertrust nie. Jy as stigter van die trust kan ‘n trustee van jou keuse aanstel en moet versigtig oorweeg wie die beste sal wees om hierdie verantwoordelikheid te aanvaar vir jou wense rakende die bates in die trust. Die rol van die kind se voog en die trustee is verskillend in die sin dat die voog verantwoordelik is vir die kind self terwyl die trustee die bates in die kinderstrust bestuur om tot die kind se voordeel te wees. Dit is algemeen om die kind se voog aan te stel as trustee maar dit is nie ‘n vereiste nie. Dit word sterk aanbeveel dat meer as een trustee vir ‘n trust aangestel word.
Mite 2:
Die geld in die trust kan maklik misbruik word deur my kind se voog na my dood.
Die doel van ‘n kindertrust is om jou nalatenskap te bewaar vir jou kinders, sou jy voortydig sterf. Wanneer jy ‘n kindertrust by jou testament insluit, as deel van jou boedelbeplanning, kan jy duidelike voorskrifte gee vir hoe die bates bestuur moet word en op watter ouderdom die kind self toegang tot die trust mag verkry. Die kind se wettige voog sal slegs toegang hê tot trust bates sou jy hulle aanstel as trustee. Deur ‘n professionele trustee en meer as een trustee aan te stel kan jy egter probeer verseker dat fondse volgens jou voorskrifte bestuur sal word. In Suid-Afrika kan voogde, selfs al is hulle trustees, nie enige vaste bates soos eiendom verkoop sonder toestemming van die hof nie. Die fondse en bates wat jy vir jou kind agterlaat is dus goed beskerm as dit in ‘n trust vervat is.
Mite 3:
Ek kan net een kind nomineer as begunstigde van die trust.
Al jou kinders kan ingesluit word by een kindertrust. Jy kan selfs ‘n kindertrust by jou boedelbeplanning inreken nog voor jy kinders het. Buiten die vereistes van hoe die trust bestuur moet word terwyl jou kinders minderjarig is, kan jy ook sekermaak die trust ontbind eers wanneer jou kinders ‘n verantwoordelike ouderdom bereik en die bates dan aan hulle beskikbaar gestel word.